IoT.nxt wen met visie vir Internet van Dinge



Die tegnologiemaatskappy IoT.nxt het met die louere weggestap by die tweede jaarlikse “Internet van Dinge”-toekennings van MTN.
IoT.nxt is aangewys as die algehele wenner van die aand en die maatskappy het ook die afdeling vir beste kommersiële oplossing gewen.
IoT.nxt ontwikkel Internet van Dinge-toepassings vir ondernemings om hulle meer doeltreffend te maak, koste te bespaar en hul inkomste op te stoot.
“Die groot sterkpunt van die IoT.nxt raamwerk is dat die oplossing tegnologies ‘agnosties’ is, wat die probleem oorkom van enige en alle toestelle of stelsels met mekaar te probeer verbind,” sê Oliver Fortuin, hoof van MTN Business.
Dit laat ondernemings toe om die tegnologie te inkorporeer in bedrywighede met min of geen ontwrigtings, sê hy.
Volgens IoT.nxt is die voordeel van sy tegnologies agnostiese toepassings dat enige toestel op enige stelsel daardeur met mekaar kommunikeer
“Dit is ’n wonderlike prestasie vir ons span,” sê Nico Steyn, uitvoerende hoof van IoT.nxt. “Dit is ’n bevestiging van wat ons doen en vir wat ons in 18 maande bereik het.”
IoT.nxt is in 2015 gestig deur Steyn en sy vennote, Bertus Jacobs en Terje Moen.
Die toekennings was deel van MTN se nasionale IoT-konferensie, wat die jongste tendense, probleme en geleenthede in die Internet van Dinge-bedryf ten toon gestel het in verskeie bedrywe, insluitende die motor-, gesondheidsorg-, vlootbestuur-, vervaardiging-, kleinhandel en sekuriteitsbedryf.
“Daar is ’n revolusie onderweg in die sakewêreld. Nie slegs in Suid-Afrika nie, maar op die hele vasteland,” sê Steyn.
“Maatskappye moet aanpas en verander om mededingend te bly. Die Internet van Dinge gaan grootskaalse voordele meebring vir enige maatskappy in enige bedryf.
“Hierdie tegnologie kan eksponensiële waarde lewer, soos ons al gesien het in die baie bedrywe waarin ons betrokke is.”
Volgens Steyn sal ondernemings die grootste gebruikers van die Internet van Dinge wees en het IoT.nxt reeds strategieë en oplossings vir verskeie maatskappye in verskillende bedrywe geskep.
“Die gebruik van ’n Internet van Dinge-toepassing gaan oor sakestrategie, nie oor tegnologie nie.”
www.netwerk24.com
Posted by




IoT.nxt
Is an IoT industry leader
Browse related topics



Join Our Newsletter
Enter your email address below and keep up-to-date. Unsubscribe anytime.