SA firma veroorsaak beroering met sy apps

’n Suid-Afrikaanse onderneming, IoT.nxt, veroorsaak ’n beroering in die tegnologiewêreld met sy “internet van dinge”-toepassings.
Die maatskappy het onlangs R100 miljoen se finansiering ontvang van sy belegger, Talent Holdings, om internasionaal uit te brei.
IoT.nxt het die “internet van dinge”-toepassings vir ondernemings ontwikkel om hulle meer doeltreffend te maak, koste te bespaar en hul inkomste op te stoot.
Die “internet van dinge” beskryf ’n wêreld waar omtrent enigiets aan die internet en aan mekaar verbind kan word en op ’n intelligente manier met mekaar kan kommunikeer. Met die “internet van dinge” raak die fisieke wêreld as’t ware een groot inligtingstelsel.
Volgens IoT.nxt is die voordeel van sy toepassings dat dit tegnologies “agnosties” is, dus kan enige toestel op enige stelsel daardeur met mekaar kommunikeer
“Ons gebruik die momentum wat ons in Suid-Afrika opgebou het met nywerheidsoplossings wat ons toepas in verskeie sektore, soos in die mynwese, hawens, gesondheid, geriewebestuur, die motorbedryf, slimgeboue en voedselverwerking,” sê Nico Steyn, uitvoerende hoof van IoT.nxt.
Die maatskappy, wat in 2015 in Pretoria gestig is, het vinnig gegroei.
“Ons momentum in Suid-Afrika gee ons ’n goeie platform om dieselfde te doen in Europa,” sê hy.
Die maatskappy het ’n kantoor in Londen geopen en volgens Steyn praat hulle met verskeie moontlike vennote om te help met die Europese uitbreiding.
Volgens Steyn gaan die maatskappy die kantoor in Londen gebruik om vinnig te groei in die internasionale mark, wat self baie vinnig groei.
Oor die volgende vyf jaar gaan internasionaal na raming sowat R6 000 miljard aan die “internet van dinge” bestee word, volgens BI Intelligence. Die verwagtinge is dat daar sowat 34 miljard toestelle teen 2020 aan die internet gekoppel sal wees. Dit is tans sowat 10 miljard.
Volgens Steyn sal ondernemings die grootste gebruikers van die “internet van dinge” wees en het IoT.nxt reeds strategieë en oplossings vir verskeie maatskappye in verskillende bedrywe geskep.
“Die gebruik van ’n internet van dinge-toepassing gaan oor sakestrategie, nie oor tegnologie nie.”
www.netwerk24.com
Posted by

IoT.nxt
Is an IoT industry leader
Browse related topics

Join Our Newsletter
Enter your email address below and keep up-to-date. Unsubscribe anytime.